|
Goeiedag Malan, Ek dink dit is bewonderenswaardig dat jy genoeg belangstel om betrokke te raak. Ongelukkig kan ek nie saamstem met jou metode nie.
Wat Neil doen met sy webtuiste, is dalk 'n negatiewe ding op die korttermyn, maar dit is gemik op 'n langtermyn-oplossing. Die idee is om die buiteland genoeg bekommerd te maak oor die misdaadsituasie, sodat hulle druk op die SA regering uitoefen om misdaad ernstig aan te spreek of die 2010 Sokkerbeker te verloor. Dit gaan dus nie daaroor om die toerismebedryf permanent te skaad nie, maar eerder om 'n langtermyn-oplossing te verkry om ons land weer te kry op die punt waar mense in relatiewe veiligheid kan lewe. (Is dit nie presies wat die ANC gedoen het om weg te doen met apartheid nie?)
Jy val Neil se webblad aan met beskuldigings van fiktiewe beriggewing, maar gaan kyk gerus na elke berig oor gewelddadige misdaad wat jy in die verskeie koerante kan lees. Dit word so weergegee op crimexposouthafrica.org.
Het jy al tyd in die buiteland spandeer? Indien wel, sal jy besef dat ons omstandighede in SA nie normaal is nie. Tien teen een bly julle ook, soos my ouers hier in Pretoria, in 'n tronk met hoë heinings, hekke, alarms (gekoppel aan gewapende reaksiemagte) en honde.
Die frustrasie is dat die regering niks aan misdaad doen nie. Die polisie lag vir jou as jy hulle skakel oor 'n misdaad wat alreeds gepleeg is. Hulle het nie mannekrag of wettiese prosedures wat hulle ondersteun nie. Neil se plan lyk dus na die beste vir my om druk op die regering uit te oefen om ons land te red.
Voordat ek in 2000 Amerika toe getrek het, het hulle binne 6 maande drie maal in my huis ingebreek. Verder het ek en my pa elkeen twee motors (dus vier!) aan misdaad afgestaan. Dit is nie normaal nie, hoe jy ookal daarna wil kyk. In Texas woon ek tans in 'n hoekhuis sonder diefwering, honde, of 'n alarmstelsel, en ek weet dat as ek die polisie bel hulle binne minute y my sal wees en die misdadigers sal belis vasgetrek word. Verder het die staat nog 'n doodstraf en pas dit toe op geweldsmisdadigers.
Om vir die buiteland 'n rooskleurige prentjie te wil skilder, is gevaarlik en in my opinie on-Christelik. Jy sal op die ou einde begin wakker lê oor elke buitelandse toeris wat hier vermoor of verkrag word (lees die berigte van die Britte en Duitser wat aangeval is). Ek voel dit is ons plig om die waarheid te praat.
Dink net hoe wonderlik sal dit wees as dinge weer eendag na normaal kan terugkeer en ons weer mense met vrymoedigheid sal kan uitnooi na ons pragtige land. Kom ons werk saan daaraan en in stede daarvan om vir Neil aan te val, staan saam met hom teen die slap houding van die regering en kyk of ons so iets gaan regkry. As die regering net die moeite en geld wat hulle spandeer om Afrikaans af te takel en plekname te verander wil aanwend om misdaad te bekom sal ons alreeds stukke beter af wees. Jy noem dat jy een van die 96% is in jou ouderdomsgroep wat positief is oor SA. Het jy die volgende berig gelees : http://www.fin24.co.za/articles/default/display_article.aspx?Nav=ns&ArticleID=1518-25_2003509
Wat ook van die feit dat een miljoen van ons al in die buiteland werk weens misdaad en regstellende aksie. Biede is nie bydraende faktore tot 'n positiewe sienswyse nie.
Groete
JP
NS: Ek vertrou dat jy my brief sal sien as een van 'n mede-Afrikaner wat saam bekommerd is oor wat met SA gaan gebeur en nie as 'n aanvallende brief sonder rede nie.
|